29.10.16

Groen gras en rooi grond

My slapende geliefde
se koue beendere
is ’n kaggel waarby
nostalgiese gedagtes
soos winterskinders
kaalvoet sit
en probeer
vingers&tone
warm maak.

Eendag sal ek nog
my verdorde geliefde
se tuin besoek,
’n bos blou tulpe bring,
en daar op die gras
kaalvoet sit,
met pen&pampier,
en met kitaar,
dat daai mooi
komposisie
wat ons lank, lank
gelede begin het,
klaar kan kom
om só ons liefde
op te som.

Wanneer ek klaar is,
met ’n son en maan
wat treur en taan,
sal ek pens&pooitjies lê
en die deuntjie neurie
die groen gras
en rooi grond in,
sodat haar koue klei
kan resoneer,
kan vibreer,
en dalk, miskien
weer vlam kan vat
en dalk, miskien
ons nog ’n keer
soos toentertyd
saam kan sing
en kan jolyt!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

21.10.16

Seisoensverandering

die bome protesteer in rooi
lig hulle arms omhoog
met wapperende vlae
roep revolusie in geel krete
gooi bruin strooibiljette

maar die diktator gee nie ag nie
die koue kom nader dag na dag
soos ouderdomsnostalgie
is daar geen ontsnap nie
en met een skriel nag

is die bome afgeslag
lê die velle om die voete
soos betogingsplakkate
verlate in die strate


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.9.16

Wilde Ganse

’n Vryvertaling van Mary Oliver se gedig “Wild Geese

Jy hoef nie goed te wees nie.
Jy hoef nie op jou knieë te loop
vir ’n honderd kilometer en berou nie.
Jy hoef slegs die sagte dier van jou liggaam
toe te laat om waarvoor dit lief is, lief te wees.
Vertel vir my van wanhoop, jóúne, en ek sal mýne belei.
Intussen gaan die wêreld aan.
Intussen beweeg die son en die duidelike klippies van die reën
steeds oor die landskappe heen,
oor die grasvlaktes en die diep bome,
die berge en die riviere.
Intussen is die wilde ganse, hoog in die skoon blou lug,
weer oppad huistoe.
Wie ookal jy is, ongeag hoe eensaam,
die wêreld bied ditself aan jou verbeelding,
roep na jou soos wilde ganse, hard en opgewonde—
kondig oor-en-oor jou plek
in die familie-van-alles aan.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.7.16

Vrygebore




Hulle—die wat oor dinge opinies het—sê
dat ek is vrygebore, dat die hele wêreld
is my beskore, dat ek hoog op die skouers
van my ouers staan.

Maar staan dié dan nie hoog
op die skote van hulle grootmoeders
en op die skofte van hulle voorvaders nie?
En is hulle dan nie sedert Kain en Abel
geplant tussen lyke en gevloed
in bloedvergieting nie?

Glo is ek vrygebore,
asof daar nie ’n naelstring
is wat my aan my voorsate bind nie,
asof die testosteroon van my vader
nie ook deur my sweetgate wind nie,
asof die konsentrasiekampe waarin
oumagrootjie meel en glás geëet het,
en die lokasies waarin ons geliefde
bediende meel en rás geëet het,
nie ook mý geskiedenis is nie,
nie ook mý gevangenis is nie.

Hulle wat oor dinge opinies het,
sê ek is voëlvry gebore;
asof kinders nie tronkvoëls
van hulle ouers se verledes is nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.5.16

Die groot boom

Die groot boom in die veld
staan hoog soos ’n generaal
en staar oor die groot Transvaal.

Die groot boom se wortels
grou diep, en grawe sterk
die landstreek onder uitgestrek.

Die groot boom staan op sy tone
en waai sy takke ’n koepel wyd:
hy adverteer sy eensaamheid.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.16

Verdig

ek verlang na my gedigte
die kroos van my kieste
van my en my muse
se mistiese lieste

om te dig

om jou lewe sodanig in te rig
dat woorde heilig is
soos geboorte heilig is

is ’n roeping

ek mis my gedigte
die woorde wat in my borskas
se broeikas lank gekweek het
tot my hart se dop klop-klop
oopgebars het met die pynlike euforie
wat slegs ’n moeder (en ’n digter) ken

ek bied jou ’n penning en ’n stuiwer
(die ganse salaris van ’n skrywer)
sê my nou in watter ander mond
en watter ander bekken
loop my poësieë rond
en ledemate rekken

           Liefste Muse,

           ek dink ek het die grot gevind
           waar ons drome oorwinter het:
           ek let tekens van kinderpret
           en rotsprente met twee vrolike figure
           en daar hang nog binnemonds ’n reuk
           van hoop uitgelek deur onskuldige kliere

           maar Lief ek vermoed die ergste:
           ek bespeur óók op die grond
           ’n worsteling en bloed en in die lug
           se onskuldsoet proe ek nóg
           ’n geur gevleg—’n onheilige geveg:
           nie soos die dood nie
           maar soos die gevorseerde

           stilte

           van onderdrukte
           ongedrukte
           van verdrukte
           woorde

           ek verlang na ons gedigte





... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.4.16

Wat nag is

Die dag toe jy dood is 
slaan my hart 
die sonsondergang
'n bloukol. 
Ek verstaan nou
wat nag is. 


Al daai stories oor die aarde 
wat draai is bog. 
Dit is derduisende treurendes se harte 
wat met gebalde bitter vuiste 
dag na dag die hemel swart slaan— 
dít is wat nag is.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.2.16

Tongspunt

Hierdie ding wat ons doen—
wat sal ons dit noem?

Hierdie gepeuter met mekaar
se gekneusde harte, hierdie onverskillige
gevroetel met mekaar se breekware, astrand
kleuters in 'n kristalwinkel—
kyk hoe hardloop ons harte
sonder toom of ruiter
deur die landskap van ons
oorvleulde lewens,
vertrap die landerye,
skop stof op, keer tafels om,
vase val, en mors van speserye—

Wat word dit genoem?



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.11.15

Die rooi kruiwa

’n Vryvertaling van William Carlos Williams se "The Red Wheelbarrow" -- ’n voorbeeld van die Imagisme-skool. 



soveel is afhanklik
van

’n rooi krui-
wa

verglans met reën-
water

langs wit
hoenders.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.10.15

Annunsiasie

O gedorie! o genade! o die dinge hier te sien!
O my goeiste! o my aarde! watse lot is hier bedien?!

Katastrofe, kataklisme, katakombe, katpardel!
Kan jy sulke dinge indink? Kan jy dít tog oorvertel?!

O die wêreld lê aan skerwe, o die heelal roep-en-gil!
O die sondes oorgeërwe, o die gode tjoep-en-stil.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence