29.4.11

Gekneusde appelkose

Haar hare ruik na appelkose. Soet, vars appelkose. Ek lê met my gesig in haar hare; ek omhels haar van agter. Haar lieflike heupe kruin in my buik asof ek ’n moeder en sy my ongebore kind is en so wil ek verewig lê. Haar asemhaling is rustig nes ’n laaggety. Slaap sy altyd so rustig? Dis oggend maar ek durf nie roer nie. Netnou word sy wakker, staan sy op, begin die dag, die res van die lewe, en het hierdie oomblik aanbeweeg. Aanbeweeg soos gisteraand toe ek haar gekneusde appelkose met al vyf sintuie geproe het.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.4.11

Boervrou

my vrou is 'n boervrou
my boervrou spit in die tuin
sy spit die aarde in klowe oop
groot vrugbare oopwondklowe
met haar groot ysterspit

soos Agdistis is my vrou
my boervrou bevrug Moeder Aarde
kloof haar oop en stort haar saad daarin
my vrou is 'n vrugbaarheidsgodin


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.4.11

Perskes

Op persketakke lê soos watte die voorvrugte.
Só, op my hart blom my liefde – onverdun.

My beminde, hou nie jou rooi hart gegrendel nie:
die hart is ’n papie wat eens nog moet vlerke kry,
wat oop moet maak soos biddende hande na gebed,
soos ’n lotus voor die son, soos twee pare lippe
vir mekaar, soos bene vir bekende heupe,
soos vriende se kaalpersoonlikhede.

Want in die laat winter bot die perskes
en deur die koue groei die liefde soos tienerborste.

My beminde, hou nie jou soet mond toe nie:
laat my tong soos ’n vinger jou snare stram,
jou perkussie plekke kielie, jou diep liefdesgrotte
maak eggo soos roepende katedraalklokke,
wat luidkeels ween oor die hoog gestookte liefde
en jou brandstapel waarop ek hartstogtelik verteer.

Hoogsomer dra die perskebome swaar aan vrugte
en loop die harte oor van bloed en liefde.

My beminde, vergeet nie die ou verhale nie:
van Adam (óf Romeo) wat deel aan die giftige perskes
en deel aan die lot, want die liefde se drif vrees nie
die dood nie, dit loop doelgerig die duisternis in –
braaf soos Christus, wánt, my beminde,
die slot van die dood bind nie die liefde nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.4.11

Liefde: groenlewe

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim So-yeop

O, die liefde:
liggroen trane.

Winters wind;
uitgerekte stilte;
'n grot;
dan skielik 'n ontploffing—
lewe ontkiem!

In 'n bors eens begrawe,
'n straaltjie liefde—
Nou, 'n vuur!

Kortvoorlank bloei
daar orals klam bloeisels—
hulle vul die hele wêreld met
gulle liefdesliedere!

O, die liefde:
'n sagte liefdesasem
wat uit 'n brose boesem ontkiem
tot 'n besonderse
groen lewe!

사랑은 초록빛 생명 -- 김소엽

생명은 빛으로 오네
사랑은 연초록
눈물로 오내.

겨울 바람
침묵의 기나 긴 동굴
오랜 기다림 끝에
참고 참아 터뜨린
생명의 발아(潑芽).

가슴에 묻어 둔
한 줄기 사랑
이제 불이 되었네.

새 순 돋듯
물기가 돌고
처음으로 내다본
세상 가득 환희의 아가(雅歌).

사랑은
보드라운 연록의 숨결
여리고 순한 가슴에서
아, 찬란한
초록빛 생명이여



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.4.11

Ek wens ek kon:

  • jou kadawer opgrawe en die pulwer
    afstof soos ’n ornament uit ’n kis
  • alchemis speel; êrens die elixir steel
    en jou verdorde bloed daarmee kwik
  • jou vleis uitbou met klei en jou vel
    met sag gespinde sy span
  • bolletjies see in my hand rol totdat dit jel
    en dit versigtig in jou oogholtes rol
  • sewe kraaie se blinkste vere pluk;
    jou mooie hare terug rangskik
  • ’n skulp se suis en ’n altviool se kwê
    saam fynmaak en in jou keel inlê
  • asem jou droeë-koraal longe in soen
    tot jy eens pienk in die wange bloem
  • sonder aankondiging jou by die hand gryp,
    strand toe hardloop en kaalvoet trou
    [maar ek kan nie,
    en dis nie lekker nie]
 

.... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.4.11

Koning

Jy bars oop soos ’n granaat
jou robyne is blink en ryp
jy laat my proe aan duursaamheid.

My hart verruk, my oog vergryp
my pik sluk een-vir-een edelsteen
ek verbeel my ek’s gekroon:

robyne om my staf
heuning in my keel
’n koningin wie by my woon.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

19.4.11

voor die tv

Ons sit-lê knopperig en beknop
voor ’n saamswerende televisie
en suig mekaar se asems op.
Op jou bors stetoskoop my kop –
jou binneste skommel van lewe
soos die see, vroeg in die oggend,
wanneer sy nog gril voor die son.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.4.11

rara-proposisie

Laat my in jou nes kom
broei soos ’n lemoenduif.
In jou nis sal ek nokturnes
koer.      Uit die snoesigheid
sal ek knoestig my vere pronk
tot jy dronk gesidder is.
As jy my in jou nes laat lê
sal ek jou met vet ruspes voer.
Ek sal pikkerpik vir vlooitjies,
en jou veertjies mooitjies
terug rankskik.      Laat dié
rara avis jou mons pubis
moffel tot jy genoeë is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.4.11

Aan 'n vreemdeling

'n Vryvertaling van "To a Stranger" deur Walt Whitman.

Verbygaande vreemdeling! Jy weet nie
met watse verlange ek na jou kyk nie:
Jy moet hý wees, of sý wees,
waarna ek in my drome soek.

Ek het sekerlik êrens
'n lewe vol geluk met jou gelewe:
Elke herinnering hernu in ons verby vlie—
vloeiend, vlyend, vlekloos, volwasse.

Jy het saam met my groot geword;
was 'n seun saam my of 'n dogter saam my:
Ek het saam met jou geëet, geslaap; jou liggaam
nie slegs joune nie en my liggaam nie slegs myne nie.

In ons verbygaan gee jy my die plesier
van jou oë, jou gesig, jou vlees:
In ruil neem jy my baard,
my bors, my hande.

Ek's nie veronderstel om met jou te praat nie;
mag alleenlik aan jou dink:
Wanneer ek alleen sit of snags alleen wakker word,
sal ek wag—ek twyfel nie in ons herontmoeting nie.

Ek sal daartoe sien—jou nie weer verloor nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence



Walt Whitman - To A Stranger by poetictouch

15.4.11

Planttyd en oestyd

Planttyd

My vriendin,
hoog is die tyd dat ons plant.
Jou klam rooigrond is oopgekloof,
ruik vars, ná reën.
My saaier staan
met saaisak volgestop,
krop na bo, paraat.

Oestyd

My vriendin,
waar is die hoogtyd van die oes?
Jou veld staan appelboog –
ek áppel dat dit pluktyd is.
My maaier staan bakhand
aan jou suidland en wag.

Daar’s geen oes sonder plant nie,
maar óók nie saai sonder maai nie!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.4.11

Hartstog

My hart,
gaan op 'n tog. Gaan vandag nog
opsoek na jou tuisplek. Ons beide weet
dis nie my borskas nie: Kan 'n hart,
'n hart soos jý, tevrede wees
in 'n buis van been en vleis?
'n valk in 'n kou as tronkvoël aangehou?
Nee, my hart! Op 'n tog – gaan vandag nog!


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Neem en drink

kom, kom my koningin,
kom bestyg my troon,
kom bewoon my toring,

kom vul my leë ruimtes
soos die robyn van wyn
in die kom van kristal
as ons die liefde skink

kom     neem en drink



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.4.11

Jy reën op my

Jy reën op my soos op ’n woestyn,
met vrugswaar druppels
waaraan jy lank gegroei het
en toe dit sappig is van liefde
uit jou hart gesnoei het.

Jy’t mandjies vol oor my kom gooi.

Nou’s my hart besaad met jou.
Nou’s my land bevrug van jou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.4.11

Ek mis jou

Ek mis jou. Met elke klop mis my hart jou.
My longe mis jou reuk wat soos veldlelies
in my valleie uitdy; my oë mis jou lyn,
versigtig getrek met ’n Pigmalion-pen:
van jou kroontjie, jou wenkbrou, jou neus,
jou heuningsoet lippe en ken, alles kunstig
uitgebytel. My honger hande mis jou
vorme (borste, dye, boude, lieste, vrug)
wat my bakhandpalms volmaak.
Ek mis jou. Met elke lewe mis my siel jou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Hemel en hel

Jou stuitjie gee my stuipe!
Dit maak my onuithoubaar kinderlik opgewonde soos kleuters by sirkusse.
En jou keelkuiltjie!
Dit maak my lammertjie lambokspring lendelam verlam verlief.
En jou polse laat my hartpols doodstop.      ophou klop.
En jou mond        my siel hang jou mond aan soos heuning.

Jy’s die hemel wat sal maak dat ek hel toe gaan.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.4.11

Openbaring

Toe nag aan dag geboorte gee,
jy gefetus teen my ribbekas ingelas,
jou asem met myne in gety
(die produk van vele seer- en lekkerkry),
tref dit my:
hoedat een man een vrou
een toekoms saam kan bou
om een ewigheid in te hou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.4.11

Sinergie

sekere dinge
is net
inherent
sinergeties:
grondboontjiebotter en stroop
appels en neute
neutmuskaat
kaneel
botterpampoen
room      arbei
ek & jy


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Drie kwatryne

Vryvertaal vanaf ’n Koreaanse gedig deur Woo-Shik Kang.

Die geur van die lotusvrou in my drome
en die geur van my vrou is soms eenders.
Maar ek weet nie watter is meer waar nie –
die liefde wat ek gee of die liefde wat ek neem (as ek slaap of wakker is) nie.

My vriend, asof om te lê in ’n nat gehuilde kis,
op treurige vroulose dae,
ons na die see laat gaan om iets te word –
seegras in die blou golwe.

Hoveel mense sal weet
hoe om die huweliksbed in die ander wêreld op te maak?
Al my drome in vorige lewens was om ’n vrou te ontmoet
vir wie ek selfs my grootste sielsmart kon gee.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.4.11

Graffitti

My Lief,
ek het soos ’n cowboy
met ’n wurgtou
die maan gevang vir jou.
Natuurlik moes ek dit weer laat gaan –
het die forel terug gegooi
die diep (en mooi) donkerte in,
maar nie alvorens ek
met silwerwit klippe ons letters,
groot soos nostalgie,
daarop uitgespel het nie –
my graffitti
(soos my liefde)
ken geen perke nie.



My Love,
I caught like a cowboy
with a noose
for you the moon.
Naturally I had to let it go –
threw the trout back
into the deep (and beautiful) darkness,
but not before I
with silver white rocks our letters,
huge like nostalgia,
spelled out –
my graffiti
(like my love)
knows no bounds.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.4.11

'n Hartbreekversoek

Vanaand, wanneer jy kom om my hart te breek
doen dit asseblief sjirurgies en nie barbaars nie,
sodat ek, as jy nie omgee nie,
dalk weer môre of eendag daarna
kan begin met die stikwerk
en eendag eens die lompe vleis weer gejel het
en my hart weer hinkepink begin klop het,
ek dalk, as jy nie omgee nie,
weer lief kan hê.

Luister na die klankleêr: "Weer lief kan hê"

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Ek's nie bygelowig nie

Ek’s nie bygelowig nie, maar jou palmlyne
lyk nes myne. In my oë swem jou sterreteken.
Jy’s tuis in my waterteken se dale en kruine.

My hart gooi dolosse. My bloed sloof
soos rooiafrikanerosse deur die stof.
My ossewa is oppad na jou plaas toe.

Moenie bekommer oor die klaar-koffie nie.
Ek bring vir ons groentee saam.
Agterna kan ons mekaar se teekoppies lees.

Sulke sondige praktyke hoort nie
in ons poorte nie, maar selfs die duiwel weet,
dat ons is bedoel om een vlees te wees.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

2.4.11

Ons lê mekaar ingelas

Ons lê mekaar ingelas
soos klip en klei
pas my hard jou sag,
ingewortel soos boom
en grond.
My hande vat groot
(arend en das)
jou kurwes vas.
My lippe tas lig
(suikerbek en blom)
jou kruine rondom.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Rondom middagete

jy broei my eiers in jou nes
ek bak jou appels in my palms
ons les ons lus met ingelegde lywe
jy hap my neutvrug
ek knibbel jou olywe
ons talm rondom middagete
gesout met sweet en met gewete
vlieg ons weg as duiwe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence