29.5.11

Vir wat dit werd is

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos
en bloots die liefdesperd (daardie steekse hings
wat sweet skuim in sy swart flanke,
bronstig oor die lewe wat nog met ’n naelstring
van die hemelse plasente hang) asof
daar geen stof-tot-stof onder sy kloppende
graniet hoewe (nes harte van voortplantende
verliefdes, bedwelm in mekaar se sweet
en skuim en naelstring en plasenta) is nie.

Vir wat dit werd is doen ons dit (nou, terwyl
die son nog koud is en voor ons lywe oud is)
sonder toom of saal of eindpaal of langtermyn
verwagtinge (behalwe rou retrospeksie), wánt
die liefdesperd komeet verby, dalk eenmaal
in een leefseisoen       en die lus (wispulturig
soos ’n tong) droog saam met die lewe lek-lek op.

Vir wat dit werd is ry ons roekeloos en bloots.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.11

Sand-Kupido

My geliefde het die pad gevat,
opgerol en oor haar skouer gegooi.
Ek kan g’n spoor vind om te sny nie,
haar lyn is op g’n kaart te kry nie.

Ek roep na die boesman-van-die-liefde
met sy mossievlerkies dwarrelwind op sy stuitjie,
sy suikerbektongetjie klap-klap simpatie,
hy waaistert sy boog en pyltjie.

“Soek haar – snif haar reuk en vind haar.
Kom nie terug tot jy haar kry nie.
Leeg is die volstruiseier in my bors
en ek vrek al van die dors.”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.5.11

Aarbeie en room

Beminde,
bring die aarbeie.

Die son borrel brons
op die horison.
Die duiwe in hulle gryspakke
brom huiswaarts.
Die katte maak los soos
loslyf atlete voor oefening.

Beminde,
ek bring room.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.5.11

Versoenery

laat ons nie te haastig wees
om die liefde totsiens te soen nie –
’n gesoenery is in elkgeval bedoel
vir versoenery en nie groetery nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.5.11

Vlinderliefde

Vanaf 'n smaraggroen takkie
val 'n pêrelwit bloeisel —
en vladder na 'n ander een.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.5.11

As ek sterf

As ek sterf, grawe nie 'n diep graf
vêr van die son af nie;
grawe vir my 'n vlak graf
sodat ek nie koud kry nie.

Tot dan, hou nie jou hart vêr
van my af nie; bly vlak neffens my.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Mities

Jy my Nimf, ek jou Pan, baljaar ons
kaalgat tussen boom en bas en bos;
ons speletjies ken mos g'n toom nie.
Ons is bosbefokte verliefdes.
Ek jou bok, jy my ooi, bokbespring
ons mekaar mitologies kras
en mities mooi.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

9.5.11

Middernagtelike verlange

Dis sewe minute voor twee in die oggend.
My oë is herfsblare en my gedagtes lewe
binne-in gedagtes.      Dis in hierdie seisoen
dat ek terug dink aan toe ons nog saam was.
As ek terugskou is jou oë bronstige mossies
wat opgewonde harlaboerla in bevlamde voëlvry
oggende.      Jou mond is ’n heliograverende son.
Op jou tong broei lou neseiers waaruit
die mooiste malmokkies kom.      Rondom
twee uur blom jy opnuut soos krismisrose
in my bebloosde verbeelding op.      Harteliefie,
my basterappelliefie, dis middernagtelike ure
hierdie.       Los jou goëlery met my.       Môre
as die mossies se kletsery my wakker het
gaan ek terug dink aan nou,
en sien hoe die nag anders in die daglig is.
Laat my rus, laat my dit toe,
omdat die verlede in die hede anders is.
Gaan terug, gaan slaap.
Gaan terug na heinde
en verte toe.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.5.11

A Love Proposal

if I could
harvest my heart like a peach
from my breast could pluck it
could steal it from its cage
could bind the aorta like an umbilical cord
could wash it and wrap it in linen
could strengthen it with colostrums against the cold
and nestle it softly in a cradle
decorated with a big bow—big like a hand;

if I could
lay it at your door
could give it to you like a ring on your finger
or like the breath of life kissed into Adam
or like spring—curled up in the palm of God’s hand
as a baby porcupine;

and if you could
accept it, could breathe it in,
could assimilate it like sweet peaches, be accomplice
to such grand a prison break, could give your breast
for colostrums and love, could share your chest
with an extra heart—passionate to pump your blood;

if I could
and if you would,
my heart is yours.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.5.11

Dis die eerlike liefde

Soms in die kurwe onder jou bors voel ek kompleet,
- My liefde vir jou is oppervlakkig,
en as ek nes maak in die holte van jou keel voel ek volledig,
- maar my liefde vir jou is opreg,
en in die kuiltjie van jou stuitjie is ek gelukkig,
- dis soos vir katte en laventel en atleetlywe.
en as ek lepel om jou tepel lê, voel ek volmaak.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence