26.11.11

My liefie se lyf

Die Vrystaat se vlaktes is kraakwit,
die skaap en bees se asems spook;
vandag gaan g'n trekker start nie,
maar ek gee nie 'n koei om nie:

My liefie se lyf is koffiewarm.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

23.11.11

Piet-My-Vrou

Toe jy met jou bolgepropte koffers
my hart kom in trek het,

die treklorrie jou meubels kom aflaai
en my meubels kom oplaai het,

jy my CD-versameling, fliekplakkate,
en troeteldiere weggepak het,

het dit my nie so erg gepla
soos toe jy in iemand anders

se hart gaan intrek het en al jou
goeters hier agtergelaat het nie.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.11.11

Vergenoeg

Die mik van jou stuitjie,
jou bors, jou keelkuiltjie;
die koepel van jou dy,
jou voetbrug, jou rug;
die dons van jou mons pubis;
die lyn wat jou lippe lus;
die kegels van jou tepels;
gewis jou hele lengte en breedte—
gee my vreugde.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.11.11

Nagblom

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim Sung-Ja.


ek wil met jou praat
iets vir jou benadruk

maar die onoorbrugbare slaap
maak woorde stom

die onbekombare slaap
tap denke leeg

daarom pos ek vir jou
                         'n wit glimlag


박꽃 – 김성자

보고싶단 말도
그립단 말도
차마 할 수 없어
잠못 이루는 밤
하염 없이
너에게 보내는
하얀 미소

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

14.11.11

Genesis 2:24

My blote smelt jou blanke –

          Ek wis g’n onderskeid
          tussen vlees of huid
          g’n lyn tussen id en syn
          nóg verskeidenheid
          tussen die hartklank
          en die weerklank
          van ons seksualiteit nie.

jou naakte smelt my flanke.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.11.11

Fiktiewe martelaarsendeling in die Oriënt

ewenas ’n oggendkoerant
blaai jy my dat ek slem
soos ’n oosterse waaier
– frit –
              knak my ken
jou tong lem
jou lem snit
my siel bloed
kersiebloeisels drup
my keel groet
“Vader vergewe,
                            en Amen”



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.11.11

'n Selfversekerde man en 'n tingerige seun

Alternatiewe titel: 'n Liefdesgedig aan myself

In die verlede was ek verlief
op ’n selfversekerde man uit die toekoms
wat soms, op wintersaande,
sy duvet vir my oop gegooi het,
dat ons aksieflieks kon kyk
vol gewere en ontploffings.

In die hede is ek verlief
op ’n tingerige seun uit die verlede
wat soms, op koue wintersaande,
langs my in my bed kom lê
en vir my ware stories sê:
vol trane en opofferings.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.11.11

My ribbekas

’n biddende vuis,
’n gebeende kou,
wat ’n rou kanarie binne hou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.11.11

Naartjie / Clementine

Beminde,

Jou hande is gespesery met die naartjies
wat jy vanmiddag vir my afgeskil het—versigtig
om nie die klein warm fetusse te kneus nie.

Jy’t jare se oefening daarin,
want só het jy ook mý hart ontgin:
die kliphart vernuftig afgedop

tot jy uiteindelik my vleeshart—versigtig
soos ’n pasgebore bebloede baba—
in jou palms, nes ’n naartjie, genes het.


Beloved,

Your hands are spiced with the clementines
you peeled for me this afternoon—carefully
so not to bruise the warm little fetuses.

After all, you have years of practice,
for that’s how you broke open my heart:
skilfully skinned the heart of stone

until you delivered my heart of flesh—carefully
incubated the blood covered newborn
like a clementine in your palms.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence