29.6.11

Gedagtes omtrent "Ek het jou lief" en "Ek is lief vir jou."

Daar is twee hoofuitdrukkings in Afrikaans om jou liefde teenoor 'n ander mee te deel: “Ek het jou lief” en “Ek is lief vir jou.” Alhoewel die twee uitdrukkings tipies as eenders in betekenis beskou word, is daar tog semantiese verskille wat lei tot eiesoortige betekenis.

Daar is twee punte van belang rakende die uitdrukking “Ek het jou lief.” Ten eerste word die liefdesdaad as 'n besitting beskou. Dit is iets wat ek het. Die tweede en moontlik belangriker punt is dat hierdie uitdrukking kontekstueel is. Dit wat ek het, het ek binne 'n bepaalde tyd en ruimte. Deur na soortgelyke uitdrukkings te kyk, kan ons die kontekstuele aard daarvan beter besin. “Gister het die kinders pret in die speelparkie gehad.” Dit wat die kinders gehad het, naamlik “pret,” het hulle gister (tyd) in die speelparkie (ruimte) gehad. Ons sien dat die uitdrukking slegs binne 'n bepaalde tyd en ruimte van toepassing was. “Ek het honger,” is soortgelyk voorwaardelik. Dit wat ek het (“honger”), het ek slegs vir 'n bepaalde tydperk. Sodra ek geëet het, het ek nie meer honger nie. Die kinders se pret het slegs gister geduur terwyl hulle in die parkie was. Dit wat ek het, is dus nie ewigdurend nie. “Ek het jou lief” is nie kategories dieselfde as “Ek het groen oë” nie. Die rede daarvoor is dat liefde 'n gevoel is. Met “gevoel” bedoel ek nie 'n emosie nie, maar eerder 'n sensasie, soos dors, honger, kopseer, pret, 'n orgasme. Weens die vlietende, tog intense, aard van gevoelens pas “Ek het jou lief” meer by jongverliefdes, of in daardie spesifieke situasies waar die gevoel van liefde pertinent sterk, byna fisies, gevoel word. “Ek het jou lief” kommunikeer 'n intensie gevoel in die hier-en-nou, maar dit dra ook 'n besitlikheid oor weens die woordorde: “Ek het jou . . .” kommunikaar indirek “Ek besit jou.”

“Ek is lief vir jou” kommunikeer as te ware twee dinge gelyktydig, waarvan die eerste eksistensiëel van aard is. Daar is 'n versoeking om te dink dat “Ek is lief vir jou” die Afrikaanse ekwivalent van die Engelse “I love you” is, maar dit is 'n verkeerde aanname. 'n Direkte vertaling van “Ek is lief vir jou” heet “I am love for you.” Die vreemdheid van hierdie uitdrukking in Engels stel ons in staat om duideliker die eksistensiële aard raak te sien: “I am love . . .” / “Ek is lief[de] . . .” Die subjek en objek word gelykgestel: X = Y; “ek” = “liefde.” Ek sê “Ek is honger” of “Ek is moeg” wanneer die gevoel sodanig tot my bewuste getree het, dat ek dit kwalik kan ignoreer. Wanneer ek dae laas geëet het, of dae laas geslaap het, raak my hongerte of my moegheid verterend. Dit is al waaraan ek kan dink, tot so 'n mate dat “ek” = “honger” of “ek” = “moeg.” Dieselfde gebeur met liefde, veral tydens verliefdheid:  “ek” = “lief[de]”;  “Ek is lief[de] . . . ” Die tweede boodskap wat gekommunikeer word is dat die “liefde is vir jou.” Gewoonlik wanneer ons hierdie grammatiesevorm gebruik is dit nie gerig aan 'n persoon nie: “Ek is laat,” “Ek is eensaam,” “Ek is Afrikaanssprekend” en so aan. Hierdie is die basiese subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie. In die uitdrukking “Ek is lief vir jou” vind 'n interesante vervaging in die subjek en werkwoord plaas. Ek-is-lief word 'n sinsnede wat deur iets anders gerig word—die sinsnede kort 'n objek (direk of indirek) om volledig te wees: “Ek is lus vir sjokelade” (direk) of “Ek is honger [vir kos]” (indirek). Sonder die objek is die uitdrukking onvolledig. “Ek is lief . . .” kort 'n “vir jou” om daaraan sin te gee; met ander woorde, my liefde kort jou, want my liefde is gerig aan jou, sonder jou maak my liefde nie sin nie; en omdat ek lief[de] is wat tot jou gerig is, maak ek ook nie sin sonder jou nie, net soos wat “Ek is honger” nie sin maak indien kos nie bestaan nie. “Ek is honger” maak slegs sin omdat daar kos is wat my hongerte kan versadig; “Ek is lus vir sjokelade” is slegs sinvol omdat daar iets soos sjokelade bestaan—'n toffieappel gaan nie my lus om sjokelade versadig nie. “Ek is lief vir jou” is slegs logies omdat daar 'n “jou” is wat my liefde kan ontvang.

Dit is interesant dat ons in Afrikaans nie die eenvoudige subjek-werkwoord-objek sinskonstruksie gebruik soos in die Engelse “I love you” om ons liefde tot 'n ander uit te druk nie. Ons verstaan die uitdrukking “Ek haat jou” tog goedgenoeg, maar “Ek lief jou” lê ongemaklik op die tong en staan kru op die bladsy. In plaas daarvan dat “lief” ons saamvoeg, skei dit ons van mekaar. Ek staan aan hierdiekant; jy staan aan daardiekant; en in die middel staan die liefde soos 'n hindernis—gepas vir haat, maar ongepas vir liefde.

Met “Ek het jou lief” is liefde in ons besit; 'n intense gevoel in die hier-en-nou. Met “Ek is lief vir jou” verander ek in liefde en vind my vervulling in jou.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.6.11

Sirkus

ek vou my liefde origami:
lelies, swane, perde pronk
voor die voordeur van jou hart
paradeer die hele wellustige sirkus
met styfgespande broekiekouse

wanneer flap jy die tentdeur oop
soos Jael vir Sisera?
sodat ek kan kom dronk raak
aan jou melk
aan die slaap kan raak
aan jou boesem

ek spring deur vurige hoepels
loop tou en vou vir jou swaardlelies

in my drome het jy ’n dolk in jou hand:
jy pen my slaap teen jou hart vas...



Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.11

my ganse heelal

Jou tenger lyf span skielik styf
ryk uit, swel soos vye – balonne –
jou longe hou alle lug binne,
jou dye emmer oseane,
jy hap die sterreriem met groot gape,
arms en bene strek ligjare
soos die dood. Spermskippies seil
soos silwervissies, soos kwiktige
ruimteskepe, deur jou diepste
ruimte-tyd howe. Jou tengerlyf
is my ganse alle heilige hele heelal.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

10.6.11

Back Stage Pass to a Heart

As ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning het, sal ek vir jou daar tussen al die ander volksvreemde inboorlinge gaan soek soos 'n hond sy baas by 'n kerkbazaar. Wanneer ek jou gevind het, gaan ek maak of ek jou nie ken nie en eers met al die ander mooi meisies, in hulle frilletjie-baaikostuumtops en stywe denims wat hulle vir hierdie aandgeleentheid aangetrek het, flankeer. Eventueel, deur die loop van die aand gaan ons langs mekaar beland. Ek gaan kommentaar lewer op jou interesante skoene en hoe dit jou slanke enkels komplimenteer. Ons gaan reeds oor verskeie onderwerpe gesels het voordat ek myself aan jou voorstel, en jy aan my. “Dis 'n mooi naam,” sal ek sê, jou in die oë kyk en glimlag. Ons gaan giggel wanneer ons uitvind dat ons alby nie gaande is op Country-musiek nie, maar dat ons paradoksaal gaande is oor Willie Nelson. Die slegte ding is, Willie Nelson is nie meer jonk nie. Ja, hy's jonger as die ander Nelson waaroor almal gaande is, maar ons weet hoe vinning Madiba oud geword het. So ek hoop dat ek 'n agterverhoogtoegangskaartjie vir 'n omstrede Willie Nelson-vertoning kry voor sy twee gevlegde ponies op 'n elektroniese afslaer verkoop word ten bate van 'n welsynsorganisasie. Tyd hardloop uit en agterverhoogtoegangskaartjies, veral na iemand se hart, is moeilik bekombaar. Sien jou daar.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

8.6.11

daar’s nog tyd!

as jou asem in jou omkeer
jou lyf weer kaal terugkeer
gaan ek nie geboorte gee aan trane nie—
die Dood verdien nie geboortes nie

ek gaan nie eerbiedig knik nie
my huid formeel in swart omlyf nie
of lelies vir só okasie rangskik nie—
eerder probeer die Dood voëlverskrik!

daar’s nog tyd! kom ons lewe voluit,
kom ons huil vooruit, kom ons
beklee in pompadoerfrokke
en vlieg voëlvry Noorde toe.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.6.11

My hart is rou

My hart is rou, my gees is tam
die liefde is ’n slagveld van
die ergste smart en onheilspyn

My siel is bloot, my siel is kaal
my siel is deur verdriet besaal
die liefde skink die suurste wyn

                                  *

Jy verlei my uit my wapenrusting uit,
jy skeer my kop, jy stomp my byt
jy verraai my aan die Fillistyne –

En so het die liefde my verblind
so het die hartstog my verslint
so vee jy uit my hart se lyne:

En al wat oor is:
’n afgestompte bloedpomp
’n id sonder iets wat syn is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.6.11

Liefde-maak

wat’s die storie met “liefde-maak”?

            is ons heupe ’n fabriek? ’n raffinaairy
            wat liefde in liters voorberei?
            suig my penis soos ’n olieboor
            volumes liefde uit jou vagina voor? óf,
            spoeg ek skuimpies liefde
            uit my jou donkerte binne –
            ’n skrywer geïnspereer met sinne,
            [swart]gedagtes op [wit]papier?

ons maak nie liefde nie –
   
           Liefde maak ons.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence