28.8.11

Lafenis

My vrou het die lafenis
van 'n Sabbatsrus.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

24.8.11

Met olie en kaneel

Met olie en kaneel wil ek jou warm vryf
totdat jou lyf goud ge-alchemis is
totdat jou sagte plekke vlam vat
jy gloei soos wierook
jou binne-in loem
soos towergoed
totdat jy bruis soos die see
as die oggendson daaruit borrel
en die stratosfeer in laviteer.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

20.8.11

My mooi vrou,

'n Beeldhouer—'n Michaelangelo of Rodin—
moet jou gedaante in klei uitknie,
jou afdruk in koper giet, jou vorme in marmer ets,
sodat ons kinders en kindskinders en agteragterkleinkinders
jou plek in tyd-en-ruimte kan bewonder en sê:
“Ek stam uit daardie godin!”

Iemand moet jou skilder. 'n Klimt of Botticelli—'n man
wat mooi vroue lief het—moet jou skilder.
Geen kitsdigitale foto, g'n pseudo-iris sal deug nie.
Die kunstenaar moet sy das afhaal as hy jou sien
en my beny met sy jaloerse stywe kwas vol warm rooi verf.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.8.11

Ek droom van Potchefstroom

In my droom stap ek terug,
terug Potchefstroom toe:
oor brûe waaronder moddervuil trolle
(eensaam en hartseer) knorrig sit,
oor spruite waarbinne mitiese waterslange
(mislik van verlange) vir kinders lê en wag,
oor koringlande waar voëlverskrikkers
(vernederd en leeg) gekruisig hang,
oor plase met rumatiek-ou windpompe,
oor agterlike agterplase in snakwarm agterbuurte,
oor allerande verdrietige plekke stap ek:
in my droom stap ek Potchefstroom toe,
want in 'n tyd toe drome nog vrolike gedoentes was,
het ons sprokievrolike drome in Potchestroom gedroom.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence