29.9.11

Sien die oumense

Sien die oumense.
Hulle vaal gesigte deur tyd en arbeid geërodeer;
die blossende jeug, eens wulps soos faanramme,
is afgeskilfer; in roesvlekke slaan hulle velle uit;
yl lê die donsdunhare op kuikennaakkoppe.

Verbeel jou onder al die lae klere (noodgedwonge
om die slakslymsirkulasie van stol te hoed),
daardie aardige (want aarde is jy en aarde word jy weer)
verlepte oumenslywe      oumensvleise tot leer gelooi
deur die lewe      deur die gejaag na lewe – alles tevergeefs.

Die dood kom. Daar is geen haas aan haar nie.
Haar skrede trap voetjie-vir-voetjie steeds verbete
sonder enkele misstap sonder enige swik of swenk
soos ’n getroue os op die ploegland kom die dood.

Ook God sien die oumens en skud sy kop.
Nie in afkeur nie, maar in medelye...
Nee, stellig nie medelye nie! Wat weet God van oud word af?
Maar God, meer as enige toeskouer, sien altyd die tragedie raak:
Die verkrimpte pasgebore baba – asem in – snel deur nuuskurigheid,
jagsheid,verantwoordelikheid en verkrimpte oudheid – asem uit –
soos ’n blom.

Luister na die oumensstem. Die lewensvuur, wat op ’n tyd
hoog gestook was in ’n oomblik van orgastiese soetseks,
het afgewaan tot klam bewende loute – kabbelend soos urinering.
Ja selfs in die pis hoor jy dit. Die blaas het geen meer ambisie nie.
Die sluise is lam en sonder waterdruk.

Die ergste is die oë: juwele wat in dowwe spoelklippe verander het.
Dis die verlange in die oë wat die ergste is; die wete, die gedwonge
erkenning dat die olie klaar is, die wik opgebrand is,
selfs die lantern bros is. Ongeag die veggees, die neerlaag,
die neerlê, is onvermeidelik. Sy het gewen. Sy wen altyd.

Maar God bejammer sy verkrimpte kinders nie,
want God weet dat die lewe ’n ruspe en die dood ’n papie is.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

28.9.11

Tong

jou tong wat teer kan lek kan óók kattong
my hart breek voor die hoëtoon van jou liederlike tong
wat ééndag lover
ééndag wraakagtig is

jou waaragtige waarheidstong maak seer tot op die been
dit skei sening en murg
jou aangrypende tong verwurg

jou ongevoelige dooiemansvingertong
steek sluipmoordskutpresies

deur die lewendige woord
pleeg ’n letterlike tong moord


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

17.9.11

My hart en ek – 'n Jazz-komposisie vir stem, klavier, saxofoon en perkussie

Komposisie 1:

My hart en ek
          het oor die saak besluit:
genoeg's genoeg,
          ons kys is uit.

Watter ander hart,
          watter ander ek,
ken soveel smart
          soos my hart en ek?


Komposisie 2:

My hart en ek
het oor die saak besluit—

Watter ander hart,
watter ander ek,
ken soveel smart
soos my hart en ek?

—genoeg's genoeg,
ons kys is uit.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

7.9.11

Verewig

Verewig is nie soos 'n leeftyd nie,
                         —'n sonsopkoms,
                                                  'n sonsondergang—
verewig is 'n baie, baie, baie lang tyd;
maar indien verewig vir ons bestem is
soos 'n kortstondige geboorte
                         —'n eier kraak oop en die son
                                                  spring uit met geel donse—
vir ons bestem is
en die onvermydelike dood
                         —soos 'n blom vou die dag
                                                               in die nag toe—
vir ons bestem is:
dan sal ek graag verewig saam met jou—verewig—wees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.9.11

Sluipmoord / Assassination

Heelnaglank veg ek slaap
(my vuiste stukkend       my slape bloei
my knieë en elemboë is nerfaf baklei)
want anders, soos ’n ongeluk, breek die oggend
oop soos ’n eier       ’n skedel       ’n hart wat oorvol
gestop is van die liefde (daardie onverskrokke
hartelose dreigende dêmmit tipe liefde).

En nou, wanneer die dag aangesluip kom
(my hart se sluipmoord op die agenda;
dit sal, ek’s seker, met ’n mes gebeur)
en ek min veggees oor het, smeek ek jou
my beminde, wees flink. Ek het reeds
beide halstarrige hemp en borskas oop
geskeer (ek glo jy sal dit waardeur).

Beminde, beide ek en my hart is gereed om
vandag nog (martel my tog nie verder nie!)
met ’n enorme dood entoesiasties te sterf.
Die engele (my beskermsengel en joune)
staan op hul merke om met bedevaartslied
(’n nekro-duet) my tot die grootslaap te ontbied.

Moenie vergeet om die blomme te water nie.



Throughout the night I battle sleep
(my fists broken       my temples bleeding
my knees and elbows chafed from fighting)
lest, like a calamity, the morning breaks
open like an egg       a skull       a heart stuffed
to the brim with love (that undaunted
heartless threatening damned type of love).
And now, as the day comes crawling
(my heart’s assassination on the agenda;
it will, I’m sure, be done with a knife)
and I have little fighting spirit left, I beg you
my love, be swift. I have already
both my stubborn shirt and chest
ripped open (I trust you’ll appreciate it).
My love, both my heart and I am ready
on this day (please don’t torture me further!)
to die enthusiastically an enormous death.
The angels (my guardian angel and yours)
are standing on their marks for a farewell number
(a necro-duet) to call me to the Big Slumber.
Don’t forget to water the flowers.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence