28.5.12

ek sien 'n god (maar dit was jy)

'n Vry vertaling uit die slottoneel van “Philaster” (reëls 189-202) deur Beaumont & Fletcher (c. 1610). Aan die woord is Bellario/Eufrasia aan die edelman Philaster:

Terwyl ek in my vensterbank gesit het,
my gedagtes op die grasperk afgedruk,
dog ek ek sien 'n god (maar dit was jy)
wat ons poorte binnekom:

My bloed vlieg weg—vlieg terug,
asof ek dit uitgeblaas en terug gesuig het soos asem;
haastig is ek geroep
tot vermakingsberoep vir jou.

Nooit is 'n mens vanaf 'n herderstok tot 'n septer,
so hoog in denke opgehef as ek nie.

Jy laat 'n soen
 op hierdie lippe
(wat ek verewig jou wou weerhou het);
ek hoor jou praat,
dis vêr bo sang.

Toe jy weg is ontmoet
ek my hart vir die eerste maal,
en loots 'n ondersoek
wat dit só maak klop:

Gewis, ek het gevind,
dis liefde!



Source Text:
...till sitting in my window,
Printing my thoughts in Lawne, I saw a God
I thought (but it was you) enter our Gates,
My bloud flew out, and back again as fast
As I had puft it forth, and suck't it in
Like breath, then was I call'd away in hast
To entertain you. Never was a man
Heav'd from a Sheep-coat to a Scepter rais'd
So high in thoughts as I, you left a kiss
Upon these lips then, which I mean to keep
From you for ever, I did hear you talk
Far above singing; after you were gone,
I grew acquainted with my heart, and search'd
What stir'd it so, Alas I found it love...
                

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

27.5.12

ek het hard probeer om my hart te keer
om jou se reuk te ruik
maar ek het gefaal om my doel te haal
om my hart se neus te fnuik

ek het lank gestoei om my hart te boei
om hom gehok te hou
maar hy't los gekom, uit gekom
en is nou klop-aan-klop deel van jou


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

25.5.12

Dors


kyk hoe horingdor is dit, hoe brosdroog,
sien hoe dit skilfer, hoe staan die stof
met elke tromslag, krummel dit met aantas,
hoe poeier die roes, hoor hoe kraak die skaniere,
verwelk tot stok, verkrimp tot klont,
verneder tot kurk en grond

o hoe dors my hart na die lafenis
wat jou liefde is!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

22.5.12

op daardie dag

?op daardie dag wat kom:
wanneer ek my laaste gaap en sug sal gee,
en die lewensborrel wat reeds sedert geboorte
sy rit diep in my siel se oseaan begin het,
díe dag deur die oppervlakte breuk
en met 'n sagte prik die laaste onsie animasie
soos 'n baba-nies die niet in priem;
gaan jy daarwees om my brosbroodlippe
een laaste maal te groet, my gelynde koue voorkop
en yl graswit hare een laaste maal
met jou welbekende, welgeliefde hande
plat te vee, my ewigkykende oë
toe te vee, en my stokkerige hande
vas te hou totdat die lou koud is,
gaan jy daar wees
:op daardie dag wat kom?


 ... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

12.5.12

Vlinders

die son val in vlinders
deur die venster
pragtige, lastige
vlinders wat op my wimpers
land—maar, liefling, ek weier
om op te staan—laat hulle kom,
hordes en hordes lappers
kan maar kom:
vandag is ek jou vlinder
en jy my blom

... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

5.5.12

Wintersbode


vannag, sag soos die dood, het sy op ons toegesak.
nie met wraak nie [wraak is so harde woord].
haar dons spooklig en lykklam weggesak ons hole in,
maar met [durf ek dit sê?] teerheid. asof sy treur
oor die verwoesting wat sy bring – steeds sag gebêre
onder haar moederlike ouvrouvlerke.

dis tussen die geluide,
        daardie normale geluide
        van mense en krieke en karre en honde,
dat jy haar neurie hoor – doodstil soos ’n soen,
weggesak ons holtes in. asof sy jammer is
oor die verwoesting wat sy bring – versigtig
toegevou.
             vannag.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.5.12

bekyk die losvoet, stywerug, grootkop peuter:
só, met sulke losbandige tree, tree 'n mens
mos die lewe met vooroor momentum binne

soos 'n duiker wat oorgee aan swaartekrag
soos 'n tiener wat oorgee aan wellus
soos 'n afgeleefde wat oorgee aan die dood

só, dis hoe 'n mens moet leef met die oorgawe
wat die lewe verdien, sonder om weg te skrum
vir die onvermeidelike skrotumpyn daarin—


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence


Image Source