22.6.12

Modderkoekies

2006

Eendag wanneer ons oud is
moet ons modderkoekies bak.
Ons skibberige hande sal weer
glibberig wees soos platannas.
Ons gekerfde gesigte sal weer
blos soos kleigeverfde inboorlinge.
Ons grasgryskoppe sal weereens
vrugbare aardes wees,
kleurig vol van kattekwaad
– nee – gemmerkattekalmte.

En as die agterdagson ons speletjies speen
sal ons nie ween nie, maar laaste lag –
’n Oumens is net eenmaal kind,
dóg was dit ons tweekeer goedgesind.




... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Plaas

2006

die land het bros geword
soos ou broodkors gemuf
lê nou oop     rou     skurf
soos 'n ou boervrou verwurg



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

15.6.12

soos lou heuning drup jy jou lang lyf
            oor my, giet jy jouself in warm sûe
                                         oor my lyne en my brûe



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

11.6.12

Belydenis

August 2006

Ek dans met haar. Vat haar styf
om die lyf. Speen aan haar peul-
bors. Hawe haar kors tortuur tong
in my mond. Stort my ongebore
half-kinders in haar kreng brakbuik.
Miopies beskou ek haar vigs
minnenswaardig. Noktambulis
eienaardig is my sinlike wellus
vir haar. Sonde is my houvrou.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

4.6.12

Die weefster se geliefde


"Die weefster" (met haspel en spil)
deur William-Adolphe Bouguereau,
olie op doek, 1873.


Op haar haspel is my veselagtige hart geplant—
'n ontliggaamde kop op 'n spies:

Sy spin en spin en spin en tol my are skroefdraad
op haar spil tot niks behalwe 'n koper katrol
vol geroeste gare van my hart oorbly nie.

Met weefraam stram gereed weef sy
karmosyn kettingdraad en     sy weef
skarlaken inslagdraad en       weef sy
totdat niks van my oorbly nie,
want sy het my opgeweef en deurgeweef
en ingeweef en weggeweef en klaargeweef—
'n tapisserie vol bloederige patrone:

kýk, dis ek, die weefster se geliefde!



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence