2.1.12

"Internet Kill Switch"

Wortels koek kapilêr om digitale klont en elektriese klei
waarop 'n mosterdboom—met takke vir al die voëls
van die hemel om onder sy skaduwee nes te maak—stewig,
soos 'n ligtoring, geanker is.

Oom Sam hou nie van die gekloek van wilde kalkoene nie
en staan met byl teen stam, en hammer en sekel, gereed.
Ongetemde kalkoene, soos uitgesproke protestante,
se koppe word afgekap—óf verstik aan 'n druiwetros.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

Dinge om te vrees #1

Vrees nie die afgestorwes nie,
vrees hulle kroos;
die dooies weet niks nie,
die léwendes is boos.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence