17.1.13

Navorsingsmetodiek


Hipoteses is verwoord
Data is ingesamel
Statistieke is opgestel
Gevolgtrekkings is getrek
Teenargumente is vals getoon
Die navorsers is dit eens:
Ek het jou lief.



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

16.1.13

'n Geskenkie


in 'n blou kristalflessie
—blou soos 'n sneeu-uiliris—
het ek, met een vinnige nies,
my gees verpak, die bekkie
eers met my duim toegedruk
en toe met die silwerproppie
—versier met silwerblaartjies
en silwerbessies—verseël

'n gees, soos 'n geitjie, sterf maklik
so hou dit warm teen jou bors

maar op jou sterfbed les jou dors
en leef nóg 'n leeftyd onverganglik



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

6.1.13

Skande op die strand


die see lig haar Viktoriaanse frok
in rolle en valle om haar bleek enkels op
en kom dans gallop-gallop op ons stoep

vir 'n Viktoriaanse meisie gedra sy haarself
skaamteloos met al die gedans en beenwys
ma is g'n beïndruk dat ons alweer

ons handdoeke moet skuif nie
maar ek en pa en boeta geniet die uitsig
en wolffluit vir die branders


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence