31.3.15

'n Digter se waarskuwing

nie elke blom is 'n gedig nie,
nie elke wolk 'n perd of draak nie,
nie elke sonsondergang of volmaan
'n okkasie vir romanse nie.

soms is 'n roos 'n roos 'n roos
en 'n wolk bloot 'n swerm watermolekules
tydelik bevry van gravitasie se slawerny,
en sak die son beangs sy graf binne,
en klim die maan skarlaken haar kadel uit
en staar bloeddorstig uit oor al die donkerdade
wat slegs snags onder haar grootoog nagwag gebeur.

nie elke soen bemin nie,
nie elke “ek het jou lief”
weeg dieselfde op 'n hartskaal nie,
nie alle seks indring nie,
nie alle waarheid word met 'n liniaal bepaal nie.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

1.3.15

Strek

Soos 'n vel wil ek uitstrek, soos 'n veld ooprol
en die son soos liefde indrink—my hart oopvlek
nes palms na gebed om die seën te vang.

Ek wil my self strek, die senuwees rek,
die morele sinapse soos 'n lier
sakrosant stem en plegtig stram.

My talente wil ek strek van horison tot aardsrand,
my verbeelding soos die konstelasies
in ses pare in span, 'n koets op die melkweg.

Laat ek myself strek: my vrese raakvat
en inperk, met geoefende soepel spiere
en 'n vasberade kyk vasvat en uitwerp

die duisternis in. Ek vrees nie die donker nie.
My siel lê uitgestrek en spin tussen die sterre
soos 'n swart kat wat diep die donker in kan sien.

Mag ek myself oopstrek soos 'n gekruisigde
wat in innige pyn empatiek almal wat gepynig
is omhels met wyd gestrekte oop omarmde arms.

God, strek my soos 'n gordel en omgord my
soos 'n profeet en maak my kinderlik nuttig
vir die liefdestaak van menswees.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence