8.11.17

Herinneringe

dít, gistertyd se donker dinge,
omvorm kort voor dagbreek
in ’n kenotaaf waarbinne
ons herinneringe soos bleek
skandes weggebêre lê

herfsblaarbruin passertjies sit kletsend
op die bloedbruin prikkeldraad
in die agterplaas en tjir-tjir vir
die son wat nes ’n plaaskat bolrug hurk
voor sy skielik kurk-uit-bottel sterverskiet

’n boog bo-oor als wat rou en blou is

in grafte weggebêre lê
ons herinneringe van gisteraand
se donker dinge waarvan die mossies
en die katte en die nuuskieriges
niks weet nie

maar eendag is eendag
sal ’n grafrower
díe donker dinge
weer optower


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

29.9.17

Eindelaas

So potsierlik—tog!—die ouderdomspredikament
wat—aai!—so natuurlik van my hoop
en van my angs iets inherent onnatuurlik
konstrueer en konsterneer: die verskrilike vrees,
soos vir die donker tweederangs,
vir verkranklike ouderdomswanhoop.

Daar is niks daaraan te maak nie:
Geen manier vir hokaai en geen nut
aan bohaai nie. Nét, saamlag
met die gode oor dié bespotlikheid
dat eers toe ek die dood aanskou,
het ek met berou geweet wat die lewe is,
en skroom ek nou oor lewensdrome ongehits.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.9.17

Getuig

ryg oop
jou velnate
onthul, ontvel,
ontbloot, vertel
die groot heelal
wat in jou
innerlike
binneste binne-
in
is



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.8.17

’n Liefdesverklaring

díe agtermiddag son

’n goudfisant
skop stof op die skof
van die land

is duidelik
ge-photoshop

want géén egte geel
is só geel
soos díe son
se goudgeel nie

maar jý my manlief
of my vroulief
is my regte égte
lief-lief


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

13.6.17

Kunsbeenrituele

Palms om borste,
arms om heupe,
lippe om woorde
vou die nostalgie nes vlerke
ver vanuit die verlede
’n nagmantel rondom ons hede:
hier is nie wierook of mirre
om gister se kwaai gode
te paai nie: slegs bloed is genoeg
as offer vir daardie kunsbeenrituele
van ouds wat ons siele soos binnegoed vervleg
het—die bloed van ons ongebore,
nooitgebore kinders wat nes ongesêde,
nooitgesêde drome in vlakgrafte
om ons voete lê—soos verwyt:
ek het jou lief, my lief, veraltyd.


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

18.4.17

Kom kuier vir my in Seoul

dit is belangrik om te weet:
dat Seoul het twee
lettergrepe
maar een diftong
hier is longe klam
van gifgeel stof
en van bedrog
maar nie geweld nie
dat die somers sweet soos
net die oorbevolkte Ooste
vol voorvadergeeste kan
dat mooi lengtes bloos
bloeisels kapok
asof dit nie in die wintermaande
genoeg gesneeu het nie
(jy kan dus dan in Mei
vir my kom kuier)
maar daarom is dit belangrik
om met sekerheid te weet
dat herfs is selfs nog mooier
soos ’n slagveld
wat ’n stad geword het
en ’n gawer tyd
vir vlugtelinge
en herinneringe
soos jy


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence