4.10.18

Karteer my

kom
kom beminde
kom karteer my

kom diepduik in my tonnels
en fynkam die donkerste
grotte van my hart

roskam my ribbekas se buitekant en binneste 
tot jy iets—soos 'n siel—
uit my vervel 

onder soeklig en mikroskoop
ondersoek en konkludeer
rapporteer wat jy bevind:

hoe my hart
in jou bloed
gedoop is

24.9.18

’n Ode aan hout

hoor hoe skree die bome
in takke hemelwaarts uitgeskiet
en wortels hades toe weggeskiet

hoor hoe die hordes roep
die woude se klaaglied uitgegiet
in hout en splinter en verdriet

hoor hoe brand die takke
hoor die kolkende rook en roet:
plank en brandhout, hoor my groet—

dankie


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

31.8.18

Die seun van die mens

hy staan ’n mistigheid
en drink die mis

sy seëninge tel hy hopeloos
want ons heelal se kolofon

dui ’n druktyd en verwyt
daarom asem hy die einde

soos wasem voor die son
met leë hande en hartseer oë

sy ledemate en lendene
verdamp in die verdrietigheid

nes muses in ons drome
verdwyn hy soos ’n lied

nes gode in ons wense
verskiet hy in die niet


... Sanko Lewis
Creative Commons Licence

3.1.18

’n Haiku, met besoek aan Kambodja

kyk hoe goed voed die gras
op die bloed en die as
op skedel en karkas



... Sanko Lewis
Creative Commons Licence